OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) het 'n positiewe stap geneem om Vroeë Kinderontwikkeling (VKO), oftewel kleuterskole in Oudtshoorn te versterk deur 'n departementele besoek op Woensdag 6 November by die Grace International Church in Bridgton.
Die besoek was ten doel om plaaslike Vroeë Kinderontwikkelingsentrums met die nodige registrasieproses by te staan, asook om kleuterskooleienaars te bemagtig om die beste moontlike sorg vir jong leerders te verskaf. Nadia Grobbelaar van die Suid-Kaap TVET Kollege was ook teenwoordig aangesien die kollege hande vat met die inisiatief.
Bana Pele ECD Massaregistrasieveldtog
Vroeë kinderontwikkeling (VKO) is 'n kritieke tydperk in 'n kind se lewe wat die grondslag lê vir toekomstige leer, gedrag en gesondheid.
Uvania Naidoo, mediawoordvoerder vir die VKO-program noem dat ten minste die helfte van alle kleuterskole tans ongeregistreer is en word deur duisende kinders bygewoon. "Dit beteken dat meer as 20 000 VKO-programme buite die aanvaarbare raamwerk funksioneer en nie deel is van enige formele oorsigproses nie. 'n Groot kommer is kleuterskole wat nie aan vereistes voldoen nie."
Sy verduidelik dat die departement van basiese onderwys se 'Bana Pele ECD Massa Registrasie Veldtog' kinders eerste plaas.
"Dit is 'n belangrike inisiatief om VKO-programme te registreer om te verseker dat elke kind kwaliteitopvoeding in 'n veilige en koesterende omgewing ontvang."
Doelwitte
Die departement se doelwitte met die program sluit in:
• Om die regering in staat te stel om toesig te hê oor die omgewing waar kinders versorg word.
• Om VKO-programme te ondersteun om aan wetlike vereistes te voldoen.
• Om te verseker dat meer VKO's aansoek doen vir subsidies vir kinders uit lae-inkomste huishoudings.
• Om die registrasie administrasieproses vinniger en minder hulpbron intensief te maak vir amptenare, VKO-praktisyns en maatskaplike dienste personeel.
Grobbelaar verduidelik dat praktisyns regstreekse ondersteuning van 'n kontaksentrumagente ontvang om hul aansoeke op die nuwe vroeë kinderadministratiewe en verslagdoeningstelsel (eCares) te voltooi.
Die span werk nou saam met die provinsies om in lyn te kom met die nuwe registrasieraamwerk, prosesse en doelwitte.
Die departement het deur gesamentlike pogings en aktiewe betrokkenheid regoor die sektor meer as 3 000 aansoeke ontvang en 800 nuwe kleuterskole amptelik geregistreer. Tans is daar 1 479 aansoeke wat verwerk moet word.
Kleuterskool-eienaars wat meer inligting wil bekom kan Nadia Grobbelaar by 044 272 7090 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’