Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Leerders van die Kaalvoet Tutor Sentrum vir kinders met neurodiversiteit neem deel aan die Bloekomboom-projek van die KKNK.
Die groep kinders het die afgelope week hul eerste van vier teken- en bewegingswerkswinkels bygewoon. Daar was volstruise in reënboogkleure, monsteraalwyne en turksvybosse wat amper van die papier af gegroei het.
Die groep se kunswerke is gekies om tydens die KKNK uitgestal te word met die titel 'Diepe Grond' wat gelei word deur kunstenaar en kurator van die visuele program, Liza Grobler.
Volgens Adri Swart, skoolhoof by Kaalvoet Tutor Sentrum, is die kinders ongelooflik trots met hul kunswerke en kan nie wag om dit op 'n amptelike uitstalling te sien nie.
"Hierdie geleentheid het ons leerders se deernisvolle harte en briljante kreatiwiteit uitgelig. By Kaalvoet Tutor Sentrum glo ons dat kuns 'n sleutelrol speel in die ontwikkeling van ons leerders. Dit bied nie net 'n kanaal vir selfuitdrukking nie, maar versterk ook hul emosionele en intellektuele groei. Kuns inspireer drome en bou die brug na selfvertroue en sukses."
Wat is die Bloekomboom-projek?
Die Bloekomboom-projek is 'n gemeenskapsprojek wat tekenkuns en dans kombineer in slypskole vir kinders van ses tot 12 jaar oud.
Dit word aangebied deur Henk Serfontein (kunstenaar) en Hannah Loewenthal (danser) en is begin as 'n ondersoek na die aansluitingspunte in hul eie onderskeie kunspraktyke.
Hierdie projek bied kinders die geleentheid om hul kreatiwiteit te ontgin en uit te druk op maniere wat hulle nog nooit vantevore kon nie.
Die slypskole is ontwikkel in samewerking met 'n kindersielkundige en oorspronklik aangebied vir 'n groep kinders van Huis Andrew Murray, by die Breytenbach-sentrum in Wellington.
Daar word in die projek ruimte gelaat om kinders met spesiale behoeftes te betrek. Dit sluit kinders in wat gediagnoseer is met fetale alkoholsindroom en neurodiversiteit.
Die twee aanbieders deel 'n belangstelling in die transformerende aard van die teken- en dansproses en die voordele wat dit vir kinders met spesiale behoeftes inhou.
Hierdie interdissiplinêre proses begin dikwels met bewegingsoefeninge rondom die kind se eie liggaam ten einde 'n bewussyn van die self en selfuitdrukking aan te moedig.
Die natuur en die onmiddellike omgewing van die kind word dikwels as temas verken binne 'n veilige en ondersteunende ruimte.
Tydens die fees word die gesamentlike tekeninge van enkele slypskole uitgestal. Plaaslike skole neem deel en aansluitend hierby bied 'n reeks foto's, wat die proses van die slypskole dokumenteer, die kyker toegang tot die betowerende impak van hierdie kreatiewe ontdekkingsreis.
Die Diepe Grond-uitstalling vind plaas by die St. Jude's Anglikaanse Kerk vanaf 09:00 elke oggend gedurende die feestydperk van 1 tot 6 April.
Gallery
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’