KANNALAND NUUS - Wat in 2015 begin het as 'n idee tussen Calitzdorper, Jan Scanell (by meeste bekend as Jan Braai), en sy vriend, Nicolaas Alberts, verkoopsdirekteur by Ninety One, het in 2015 besluit om skoliere in hul streek te help om beter op skool te vaar.
Die idee het gegroei tot 'n korporatiewe-maatskaplike vennootskap tussen vier van die land se voorste finansiëledienstemaatskappye en saam help hulle met positiewe verandering in die Klein-Karoo-gemeenskap.
Ninety One, Avbob Mutual Assurance Society, die Professional Provident Society (PPS) en Alexander Forbes voel dat hul impak sterker sal wees as hulle dit saam doen en staan bekend as Klein-Karoo Rising.
Een van die uitdagings wat die groep aangespreek het was om geld in te samel om fietse aan leerders te verskaf wat lang afstande skool toe moet stap. Scanell en Alberts het met Qhubeka, 'n wêreldwye liefdadigheidsorganisasie wat fietse aan mense regoor die land skenk kontak gemaak en vandaar het hul projek net gegroei.
Volgens Daniël Thole, stigter van Fletcher Advisory is dié vennootskap nou in sy vyfde jaar, en die fietse wat tot dusver versprei is, het die uitvalsyfer van hoërskoolleerders by Hoërskool Calitzdorp van 4% tot 0% (7,55% verbetering) verminder, terwyl die matriekslaagsyfer dramaties van 61% tot 87% (41,6% verbetering) toegeneem het.
“Ons het die afgelope jaar baie hard saam met belanghebbendes gewerk om breër en dieper te gaan met die impak, breër in terme van die uitbreiding van die bevoegdheid om Ladismith, Zoar en Prins Albert te dek, en dieper in terme van nouer saamwerk met gemeenskapsbelanghebbendes soos bv. Community Chest in Calitzdorp en PACT in Prins Albert,” sê Narassa Govender, 'n direkteur by Ninety One.
Hulle het weer op 2 Mei 'n fietsonderdele- en herstelsentrum by Hoërskool Calitzdorp onthul. Die bestuurder, Keenen Rabie, is 'n oudleerling van Hoërskool Calitzdorp en hy is in oorleg met die hoof van die skool aangestel. Rabie word opgelei en ondersteun deur Qhubeka terwyl hy ook rugby by die skool afrig.
Klein Karoo Rising het die projek mobiliteitsprogram na Ladismith uitgebrei. Hulle beoog om dieselfde in Prins Albert te doen. Daar sal ook Namene-sonkragligte aan leerders uitgedeel word om met studietyd in beurtkrag te help. Skole wat hierby gaan baat is Hoërskool Calitzdorp, Ladismith Sekondêr en koshuisstudente by Hoërskool Zwartberg in Prins Albert.
Govender sê die firmas glo dat onderwys en vaardigheidsontwikkeling van kritieke belang is vir opwaartse sosiale mobiliteit. Hulle wil ook aan die topmatrikulant in elk van die drie hoërskole 'n beurs ter waarde van R150 000 gee.
“Ons wil hê die leerders moet weet dat uitnemendheid beloon sal word en hulle aanspoor om hul bes te doen,” het Narassa bygevoeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’