Gallery Update
KLEIN KAROO NUUS - Bibberkoue is die afgelope week in die Klein-Karoo ervaar na sneeuneerslae oor die meeste hoogliggende dele van die Wes-Kaap.
Terwyl swaar reën die afgelope naweek oor Kaapstad en omstreke uitgesak het, het die opvangsgebied van die Koos Raubenheimerdam naby Oudtshoorn slegs 13 mm reën ontvang. Volgens Johan Uys, bestuurder-grootwaterwerke van die munisipaliteit, het die naweek se reën die Raubenheimerdam met 1% laat styg, maar aangesien water steeds invloei kan die vlak nog effens styg.
Die Melville- en Raubenheimerdam se gesamentlik vlak is tans 37,6%.
Sneeu het Sondagnag oor die Swartberge begin neersif en die Swartbergpas moes Maandag en Dinsdag vir verkeer gesluit word nadat mense ingestroom het om die sneeu van naderby te ervaar. Volgens Uys word daar nie voorsien dat smeltende sneeu 'n noemenswaardige verskil aan die damvlakke sal maak nie, aangesien die sneeu stadig smelt en meeste van die water in die grond sal wegsyfer.
Teen Maandagmiddag het die kwik steeds op 11°C gestaan en Woensdagoggend is temperature, met die belofte van heelwat kouer temperature onder vriespunt op plekke rondom Oudtshoorn gemeet. Boere het gemengde gevoelens oor die koue.
Die Swartbergpas Maandagoggend met sy winterjas aan. Foto: Liezl van Niekerk
Die Suid-Afrikaans Weerburo en die departement van landbou het boere gewaarsku teen uiterste koue. Terwyl 'n sekere aantal koue-eenhede vir vrugte en neute, soos pekanneute, nodig is vir optimal vrugvorming, is veeboere bekommerd oor veral kleinvee en volstruise. Volstruise is sensitief vir koue, nat weer, want in 'n poging om warm te bly, verdring hulle mekaar.
Sybokke wat pas geskeer is, is ook sensitief vir koue.
Lees verwante artikels;
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'