OUDTSHOORN NUUS - Het jy al in Parkweg gery en gewonder wat by die 'koöperasie' aan die gebeur is?
"Ons is baie opgewonde oor hierdie nuwe ontwikkeling. Ons doen dit nie net vir Klein Karoo Agri nie, ons doen dit ook vir die gemeenskap van Oudtshoorn."
Dit was wat die hoog-in-sy-skik en passievolle besturende direkteur van Klein Karoo Agri (KKA), Terblanche du Plessis, vandeesweek aan Oudtshoorn Courant gesê het toe hy uitbrei oor KKA se nuwe inkopiesentrum, wat binnekort langsaan die maatskappy se huidige handelstak in Parkweg in Oudtshoorn gebou gaan word.
"Dit is met trots dat ons die 'jou eie! Sentrum!' aan Oudtshoorn wil bekendstel."
Besturende direkteur van Klein Karoo Agri, Terblanche du Plessis. Foto: Stefan Goosen
Hierdie multimiljoenrand ontwikkeling is reeds vir 'n jaar in beplanning, met KKA wat dit vir so lank as moontlik "na aan die bors" probeer hou het totdat alle aspekte van die projek in plek was, voor 'n amptelike aankondiging gemaak is. Dit sluit onder meer 'n lewensvatbaarheidstudie, verkeers-impakstudie, die teken van planne, koste beramings, toekenning van tenders en alle goedkeurings in.
Volgens Du Plessis sal die sentrum, waaraan bouwerk reeds op 8 Januarie 2024 sal begin, 'n tweede Clicks, Absa-tak en KFC vir die dorp insluit. Ook 'n Spar en Tops-drankwinkel wat deur Skillie Pretorius bedryf sal word (Pretorius se huidige Spar in Voortrekkerweg sal steeds handeldryf) en 'n Vida e Caffè, een van die populêrste koffie franchises in die land, vertel hy.
Du Plessis het beklemtoon dat Clicks, Absa en KFC nie uit die middedorp na die nuwe sentrum sal skuif nie, maar dat daar bloot 'n tweede ligging van elk by die sentrum sal wees. "Ons wil graag 'n eenstop, gerieflike koopervaring vir die dorp hier skep. Nou sal die sentrum hier wees, die KKA-handelstak - wat ook vergroot gaan word, die vulstasie, karwas, motorbande-handelaar en 'n fietswinkel. Daar gaan ook 'n nuwe vertoonlokaal vir ons Case-handelaarskap gebou word."
Die Absa-tak is volgens Du Plessis een van drie hoë-spesifikasie takke in die land wat kliënte sal bemagtig om selfs onder meer 'n nuwe bankkaart by 'n spesiale tipe outomatiese teller te kry.
Hy het bygevoeg dat, alhoewel die kontrakteur vir die bouwerk van die sentrum 'n maatskappy in George is, ongeveer 80% van die werksmag van Oudtshoorn en Dysselsdorp afkomstig sal wees.
"En sodra die sentrum voltooi is, sal daar ongeveer 250 permanente werksgeleenthede geskep word," voeg hy by.
Die bouwerk aan die sentrum behoort volgens raming op 31 Julie 2024 voltooi te wees waarna die huurders tyd sal hê om hul winkels in te rig. In totaal sal die hele proses 12 maande neem, wat reeds Maandag 20 November afgeskop het.
As deel van die sentrum se vooraansig sal KKA se kenmerkende geel boog te sien wees, wat volgens Du Plessis nie net op sonstrale van hoop vir die toekoms dui nie, maar ook die "ratte van vooruitgang" simboliseer.
'n Voorstelling van die vooraansig van die sentrum. Foto verskaf
"Almal sal hier welkom wees by die 'jou eie! Sentrum!'"