DE RUST NUUS - Haar beleid is varsheid en daarom verkoop sy nie gister se roosterbrode vandag nie. So sê die 64-jarige Elsie van Beling, boorling van De Rust, wat saam met haar man, Gert (67), sowat 20 jaar gelede begin het met Elsies Klein Begin, die nou alombekende roosterbroodstalletjie, op die hoek van Voortrekkerweg en Hoogstraat in Oudtshoorn.
Hulle was vir sowat sewe jaar op 'n stuk grond in Hoogstraat, maar moes skuif vir nuwe besighede wat op die perseel opgerig is.
Volgens Van Beling is sy vandag 'n baie dankbare persoon.
"Spesialiste het na 'n aar in my brein gebars het aan my man gesê dat ek nie weer sal kan praat of loop nie, maar die Here het anders besluit. My mond was skeefgetrek en my vingers was ingekrimp, maar ek het geloof in God gehad. Die Here het my genees en 'n deur oopgemaak en daarom kan ek Hom nie vandag genoeg dank nie," vertel van Beling.
Volgens Elsie is sy, haar man en 'n helper, Sentie Bruintjies, elke oggend, behalwe Sondae, omstreeks vyfuur op hul pos. Hulle knie elke dag sowat 10 kg meel vir die dag se roosterbrode, maar meer wanneer hulle groot bestellings het vir cocktail-broodjies, vetkoeke en natuurlik roosterbrode.
"Die besigheid het oor die jare wonder-baarlik gegroei. Ons word dwarsoor die kleurgrens ondersteun."
Volgens haar het hulle ook al drie noue ontkomings met motorongelukke op dié besige straathoek gehad, maar gelukkig is niemand nog beseer nie. Elsie vertel dat sy as kind swaar grootgeword het omdat haar ouers vroeg dood is.
"Ek ken van swaarkry en daarom verkoop ek nie roosterbrood wat oorgebly het nie, maar gee dit weg. Volgens die Bybel is dit mos beter om te gee as om te ontvang."
Volgens Elsie sien sy en haar man nie kans om by die huis te sit terwyl hulle nog elke dag kan opstaan nie. Die ou pensioentjie is volgens haar ook te effentjies.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Karoo nuus'