OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man (26) van Klaarstroom, naby De Rust, wat van moord op 'n 28-jarige man aangekla word, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof na die slotargumente van die staat en die verdediging vir uitspraak tot 27 Maart uitgestel.
Lucano de Wee (26) word daarvan aangekla dat hy op 12 Maart 2022 vir Freek Jantjies (28) met 'n mes in die nek gesteek en hy die volgende dag in 'n hospitaal in George gesterf het.
De Wee pleit onskuldig en voer aan dat hy homself verdedig het toe die oorledene hom glo wou steek. Twee ooggetuies, Jenile Katzen en Ronelle Campher het egter getuig dat die oorledene nie 'n mes by hom gehad het nie.
'n Verdedigingsgetuie, Wilma Plaatjies, het ook getuig dat sy nie 'n mes by die oorledene gesien het nie. Sy het ook getuig dat daar nie 'n bakleiery tussen die beskuldigde en die oorledene was nie.
Die staat vra die hof om De Wee skuldig te bevind terwyl sy regshulp-pokureur, Eugene Roos, van mening is dat hy nie aan moord skuldig bevind kan word nie.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’