OUDTSHOORN NUUS - Die 28-jarige Lucano de Wee van Klaarstroom, wat van moord op 'n 28-jarige man aangekla is, is onlangs in die Oudtshoorn-streekhof aan moord met direkte opset om te dood, skuldig bevind en vonnisverrigtinge tot 8 Mei uitgestel.
De Wee het op 12 Maart 2022 vir Freek Jantjies (28) met 'n mes in die nek gesteek en hy is die volgende dag in 'n hospitaal in George oorlede.
De Wee het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy homself verdedig het, maar sy getuienis is deur streeklanddros Sylvia Mandla as vals verwerp.
Twee ooggetuies, Jenile Katzen en Ronelle Campher, het getuig dat die oorledene nie 'n mes by hom gehad het nie en hul getuienis is deur die hof as betroubaar bevind.
Volgens die landdros is dit enige persoon se reg om homself te verdedig, maar dan moet hy die getuienis van ooggetuies kan weerlê.
Die hof het gelas dat De Wee, wat op 'n waarskuwing buit was, 'n minimum vonnis van vyftien jaar opgelê kan word, aangehou word. Die saak is vir vonnisoplegging tot 8 Mei uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’