OUDTSHOORN NUUS - Die KKNK se spesiale Kuierbuurt-promosie op Oudtshoorn is met ’n week verleng.
Oudtshoorniete wat nie vroeër vandeesweek winskoop-kaartjies kon opraap nie, het nou tyd tot Donderdag, 1 Februarie om van dié spesiale aanbieding gebruik te maak.
Weekkaartjies vir die KKNK se splinternuwe Kuierbuurt (die feesterrein, voorheen bekend as die Rivierbuurt) word tot Donderdag, 1 Februarie by Kunste Onbeperk se kantoor (Die Neelsie, Jan van Riebeeckweg 217) tydens kantoorure verkoop.
“Ons moedig alle Oudtshoorniete aan om hierdie eksklusiewe Kuierbuurt weekkaartjie-aanbod te koop, om sodoende seker te maak dat hulle ál sewe feesdae kan feesvier”, sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied.
Die nuwe Kuierbuurt, geleë op die Oudtshoorn Sportgronde en die Vredestraat Sportterrein, bied hope vermaak vir die hele gesin en is die tuiste van o.a. die Kunsmark se stalletjies, die Huisgenoot-verhoog met topkunstenaars en nuwe stemme wat saans vermaak onder die Klein Karoo-sterre verskaf, die Castle Lager-verhoog waar musiek deur die dag aangebied word.
Liplekker se heerlike wyn en deli-produkte, ATKV-Speelbos met hope doendinge vir die jongspan, waaronder Uitkampteater-produksies en ander kroeë en rusareas.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'