LADISMITH NUUS - Kannaland Independent Party (KIP) het in 'n verklaring op Vrydag 1 Julie aan die publiek en inwoners van die Groter Kannaland om verskoning gevra vir die selfsugtige optrede deur hul raadslid, Rodge Albertus.
Albertus was 'n stigterslid van KIP.
In die verklaring word genoem dat Albertus by drie agtereenvolgende raadsvergaderings geweier het om KIP se besluite tot uitvoering te bring.
"Albertus het op 'n oproerige wyse in die publiek geweier om aan die party se beleid uitvoering te gee."
Volgens die verklaring sou Albertus se stem altyd in guns van die DA/ANC-samewerkingsooreenkoms wees en het sy stem in die raad verseker dat 'n onbevoegde munisipale bestuurder, wat nie genoegsame ervaring of bevoegdheid het nie, aangestel is.
Die sekretaris-generaal van KIP, advokaat Gerdswin Breda, meld in die verklaring dat KIP besluit het om Albertus wat sy vrou se aanstelling by die munisipaliteit na bewering op 'n onbehoorlike wyse georkestreer het, 'n verleentheid vir die party geword het. Albertus is reeds binne die party met Peter-George Rooi vervang.
Voorts noem Breda dat die algemene streekraad binnekort op 'n verantwoordelike, regverdige wyse asook volgens die etiese kode van die party, teenoor Albertus sal optree. Daar word pertinent in die verklaring genoem dat Albertus nie meer KIP in die Kannaland munisipale raad verteenwoordig nie.
Albertus het aan Oudtshoorn Courant gesê dat daar struwelinge binne sy party is.
"Die struwelinge handel waarskynlik oor posisie, maar dat ek 'n troefkaart in die raad, sowel as die distriksmunisipaliteit hou."
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'