OUDTSHOORN NUUS - Kinders wat klippe na voertuie naby Rosevalley gooi is besig om hand uit te ruk.
Lede van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het verlede week 'n dringende beroep op Oudtshoorn-polisie gedoen vir meer patrollies in die area.
Groot kommer is uitgespreek dat dit 'n ongeluk gaan veroorsaak.
Volgens 'n gesprek oor die probleem op OCAC se WhatsApp-groep het 'n taxi byna die pad verlaat nadat kinders klippe na die voertuig gegooi het.
"Die kinders is 'n gevaar. Wat gaan gebeur as 'n taxi vol passasiers in 'n ongeluk betrokke is weens 'n klip wat gegooi is? Wie gaan verantwoordelikheid aanvaar?"
Oudtshoorn Courant was telefonies in gesprek met 'n plaaslike taxibestuurder wat verkies om anoniem te bly. Volgens hom is die klipgooiery 'n wesenlike gevaar aangesien hulle met ander mense se lewens in hul hande sit. Hy hoop die kwessie gaan indringend aandag geniet.
By navraag aan die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies noem hy dat Oudtshoorn-polisie voorvalle van klipgooiery op die Dysselsdorp-pad bevestig het.
"Hierdie voorvalle is sporadies aangemeld met geen spesifieke patrone vir die voorvalle of verdagtes wat tans met die voorvalle verbind word nie. Plaaslike polisie en die verkeersdepartement is egter in kennis gestel om patrollies in die gebied op te skerp."
Lede van die publiek word ook gevra om voorvalle van klipgooiery na voertuie onmiddellik aan te meld.
Riemvasmaak-ongeluk
Die gru-vragmotorongeluk, op 15 Augustus verlede jaar, waartydens 'n graanvragmotor die pad verlaat het en deur twee HOP-huise in Rosevalley geploeg het, is deur 'n klip wat na die vragmotor gegooi is, veroorsaak. Een van die klippe is deur die voorruit van die vragmotor en het die vragmotorbestuurder, Sibusiso Hadebe (54), in die gesig getref. Die slag het hom bewusteloos gelaat waarna hy beheer oor die vragmotor verloor het. Hy het op 17 Augustus 2024 aan sy beserings beswyk. Die verantwoordelike persone kon tot op hede nie op die beeldmateriaal uitgeken word nie, slegs dat die persoon wat die klip gegooi het, links was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’