CALITZDORP NUUS - "Maak jou kind se netheid 'n prioriteit." Dit is die waarde waarmee Sophie Roman, gemeenskapswerker en lid van die plaaslike gemeenskaps-polisiëringsforum haar werk as gemeenskapswerker benader.
Roman het in 2018 die nood raakgesien om skoolkinders, dogters en seuns, se hare netjies te versorg voordat die nuwe skoolkwartaal begin. Sy het Dinsdag, met behulp van vrywilligers, ongeveer 60 leerders se hare gesny en gevleg.
Treylin Horn, een van die vrywilligers wat Roman met die projek gehelp het, vertel dat hulle sommer ook gehelp het om die leerders se skoolskoene skoon te maak.
"Ek put innerlike vreugde uit die dankbare gesiggies. Dit is lekker om die kinders te help en te weet ek dra by tot hul selfvertroue waarmee hulle skool toe gaan," vertel Roman.
Nie net help sy elke kwartaal om leerders skoolgereed te kry nie, maar bedryf sy ook 'n sopkombuis wat daagliks aan ongeveer 250 inwoners etes voorsien.
Sophie Roman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’