Dit blyk duidelik uit voorlopige uitslae wat Donderdagoggend aan die Oudtshoorn Courant gebied is. Daar is egter nog gewag op amptelike uitslae van die OVK.
As stemme, volgens `n munisipale verkiesing, in die onderskeie dorpswyke getel is, sou die DA 9 van 13 wyke ingepalm het. Die volgende munisipale verkiesings vind egter eers in 2016 plaas en verkiesingsuitslae is slegs op nasionale en provinsiale regeringsvlakke van toepassing.
Volgens die DA se Chris McPherson was die party teen Donderdagoggend aangenaam verras om te sien hoe hul steun in verskeie dorpswyke toegeneem het. Die meerderheid kiesers in wyk 5 (Smartie Town en die Lane) en wyk 6 (Rose Valley) het ook vir die eerste keer hul steun aan die DA gegee wat volgens McPherson daarop dui dat mense in die arm gemeenskappe ook nou hul hoop op dié party vestig.
"Dan vermoed ons dat die liegstem ook `n groot rol in dié verkiesing gespeel het, mense wat ANC-hempies gedra het maar vir die DA gestem het," het McPherson gesê. "Ons boodskap aan die kiesers van Oudtshoorn is eenvoudig:
Dankie, dankie, dankie. Dié uitslae dui op verwerping by uitstek van die ANC alliansieraad. Kiesers het hul stem dikgemaak."
Wessie van der Westhuizen het ook sy tevredenheid met die verkiesing uitgespreek. "Ons het drie wyke ingepalm wat voorheen ANC-wyke was. Dit beteken dat die dorp se mense nou moeg is vir leuens en korrupsie."
Die DA is ook aangenaam verras deur die groot steun wat in wyk 1 aan die party toevertrou is. Dit is ook die enigste wyk waar die EFF enige noemenswaardige steun geniet het, met sowat 300 stemme. Kiesers in wyke 2 en 3, 5, 6, 7, 10, 12, en 13 het hul steun nasionaal en provinsiaal aan die DA gegee.
Die party het groot vordering gemaak in wyke 4, 8, 9 en 11.
Teen saktyd het die DA ook die oorgrote meerderheid steun in die Wes-Kaap geniet met 60,58% (899 988 stemme). Die ANC is die amptelike opposisie in die provinsie met 31,51% van kiesers se steun (468 132 stemme). Die EFF geniet 1, 88% steun (27 990 stemme). Nasionaal het die ANC 62.3% van kiesers (4450828 stemme) se steun geniet terwyl die DA 23.57%, `n totaal van 1684264 stemme op hom kon verenig.
Die vrygeborenes: Leerders aan die Fezikile hoërskool, Simamkele Munguza, Yvonne Tatiri, Simphiwe Mlungaza, kholeka Dondas en Zintle Mlunguze het Woensdag vir die eerste keer gaan stem.
Kiesers by die De Jager-sportkompleks, die afgelope Woensdag. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'