Die besluit is hier tydens 'n konferensie van die Khoi Kulturele Ontwikkelingsraad van SA (KCHDC-SA) geneem.
"Ons het ernstig gepraat oor selfbemagtigingsprogramme en sterk klem is gelê op die neem van verantwoordelikheid tot selfbeskikking ten opsigte van ekonomiese bemagtiging van die Khoisan," sê John Jansen van die Cochoqua in die Wes-Kaap.
Stamhoofde en senior hoofmanne van Gauteng, die Oos-, Wes- en Suid-Kaap het die konferensie bygewoon.
Die voortbestaan van die Nasionale Raad van Khoisan Stamhoofde van SA (NKR) is ook bespreek en 'n eenparige besluit geneem dat dit die masjienkamer sal wees waar beleid, gewoonteregstelsels (die !Nau), bepaal en beskryf word en die protokol van stamhoofde, hoofmanne en –vroue asook ander ordes vasgepen word om eenvormigheid en eenheid onder die inheemse mense te bewerkstellig.
Volgens Margaret Coetzee van die Inqua in die Oos-Kaap, is die belangrikheid van effektiewe kommunikasie, die magte, rol en verantwoordelikhede van provinsiale leiers en gewoontereg in diepte tydens die konferensie bespreek.
"Die stamhoofde was dit eens dat daar 'n behoorlike jaarkalender van aktiwiteite vir 2014/2015 voorgelê moet word. Die onlangse !Nau-seremonie is weereens in diepte bespreek om sodoende seker te maak dat korrekte prosedure gevolg word."
'n Hoogtepunt van die konferensie was 'n PowerPoint-aanbieding oor erfenisterreine en die Khoisan-geskiedenis. Grondbesitreg van die Khoisan is ook indringend bespreek asook die hantering van grondhervorming en grondeise van die eerste inheemse mense van Suid Afrika.
Die vestiging van 'n KCHDC-SA kantoor is ook bespreek en besluit om dit te finansier om ten volle en effektief te funksioneer.
'n Besluit is ook geneem om die regering te komplimenteer vir die
skraping van die 1913 landelike wet om sodoende die Khoisan te akkommodeer met hul eise terugwerkend tot en met 1652.
"Die vergadering het 'n dringende beroep op die regering gedoen om die proses tot grondwetlike erkenning van die Khoisan te bespoedig," lui die persverklaring wat na die vergadering uitgereik is.

By die konferensie van die KCHDC-SA op Oudtshoorn was, voor van links: Brato Malgas (Inqua), Margaret Coetzee (Inqua), Matty Cairncross (Attaqua), Poem Mooney (Attaqua), John Jansen (Cochoqua) en Abe Herman (Attaqua). Agter van links staan: Tony Jantjies (Cochoqua) S Maritz (Gapon), M Dunston (Choinoqua), Achmat Jacobs (Gorachouniqua), J Potberg (Damasonqua), C Nel (Gorinhaicona), Jeremy van Wyk (Outeniqua) en Daantjie Jaftha (Inqua). Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutse Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'