Die jaarlikse feestelikheid wat gesamentlik deur die Oudtshoorn-munisipaliteit en Groter Oudtshoorn Toerisme gereël word, het reeds om halfsewe afgeskop met die amptelike opening deur Oudtshoorn Uitvoerende Burgemeester Gordon April. In sy toespraak het hy ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om tydens die Kerstyd uit te reik na mense wat alleen is.
Verskeie kunstenaars het die groot groep mense op die grasperk langs die CP Nel Museum vermaak voordat dit donker genoeg was om die kleurvolle liggies aan te skakel.
Kersvader het kort daarna sy opwagting in ‘n swart koets gemaak en moes honderde opgewonde kinders trotseer. Volgens Marita Serfontein, Hoof Uitvoerende Beampte van Toerisme, is 300 geskenkpakkies aan kinders oorhandig. ‘n Verdere 200 is ook in Dysselsdorp en De Rust uitgedeel. Serfontein is in haar noppies met die verloop van die aand. "Baie dankie aan almal wat bygedra het om die aand vir die kinders spesiaal te maak deur hulle tyd en dienste gratis aan te bied. Die kunstenaars het gratis opgetree, die verhoog is kosteloos opgerig, die klank is teen ‘n groot afslag gedoen en selfs Kersvader se koets is gratis beskikbaar gestel."
Oudtshoorn se Kersliggies. Foto’s: Hannes Visser