OUDTSHOORN NUUS - Twee van Oudtshoorn se paramedici, Cindy Meiring en Raymondo Nel, beplan 'n spesiale Kersfees vir die inwoners van Coronation Memorial, tehuis vir bejaardes in Oudtshoorn.
Volgens Meiring lê die tehuis haar baie na aan die hart en beplan sy al 'n geruime tyd om iets spesiaal vir die inwoners te doen.
"So baie van die inwoners wat daar woon het nie familie nie, of die familie kom kuier net nie. Die idee is om ietsie klein vir hulle elkeen te gee sodat hulle weet hulle is spesiaal en ons het nie van hulle vergeet nie."
Meiring sê daar is tans 85 inwoners en wil hulle graag vir 33 van die inwoners toiletware soos seep en reukweerder en ook iets lekker om aan te peusel gee.
"Ons wil graag ook vir die res van die inwoners bordspeletjies of kaarte kry sodat hulle hulself op 'n ander manier kan besig hou en ook bietjie meer met mekaar sosialiseer."
Volgens haar is hulle steeds op soek na borge.
"Camp Roadhouse het ingestem om ons te help, maar om die Kersfees ekstra spesiaal te maak het ons soveel hulp as moontlik nodig." Meiring kan vir verdere navrae by 072 949 4216 geskakel word.
Raymondo Nel en Cindy Meiring.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'