OUDTSHOORN NUUS - Gemeentelede van die Weyers Memorial United Congregational Church het Sondagoggend voor die aanvang van die nagmaalsdiens begin met die aanplant van spekbome om te voldoen aan ‘n versoek van UCCSA (United Congregational Churches of Southern Africa).
Ds. Donald Moos het tydens ‘n kort seremonie verduidelik wat die waarde van spekbome is en het die genootskap onlangs tydens sy 41ste jaarvergadering, ‘n resolusie aanvaar om 500 000 spekbome te plant.
‘n Versoek is gevolglik na al die kerke verbonde aan die genootskap in die sewe lidlande in Afrika gerig om soveel as moontlik spekbome op hul kerkterreine aan te plant om die doelwit te bereik. Gemeentelede word ook aangemoedig om dit by hul wonings aan te plant.
Tydens Sondag se geleentheid het drie van die oudste lidmate van die Weyers Memorial United Congregational Church, Eveline Strydom, Plaatjie Mei en Annie Jacobs die eerste drie spekbome geplant waarna ds. Moos ook een geplant het.
- Spekbome verwyder koolstofdioksied uit die atmosfeer sodat daar meer suurstof in die lug is en word beskou as ‘n kragtige wapen in die stryd teen klimaatsverandering en die strewe na ‘n zero-koolstof wêreld.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo nuus'