Breaking News
KLEIN KAROO NUUS - In ‘n kennisgewing wat deur die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgereik is, versoek hulle dat alle inwoners in die landelike omgewing van De Rust en Blomnek, drinkwater kook.
Hierdie versoek is as gevolg van die Olifantsrivier wat verlede week begin vloei het na sterk reën in die Groot-Karoo.
Een van die Klein-Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) se sterkste boorgate word deur hierdie erg troebel water beïnvloed.
Die suiweringswerke by Dysselsdorp is egter ontwerp om yster en mangaan uit die water te verwyder en nie troebelheid nie.
Daar is dus ‘n toename in die troebelheid van die water. Die troebelheid hou nie ‘n direkte gevaar in nie, maar kan wel die effektiwiteit van die chlorinering beïnvloed.
Die dosis waarteen gechlorineer word, word tans aangepas om hiervoor voorsiening te maak.
Verbruikers oos van Vanwyksraal (wat insluit Hazenjaght, Dysselsdorp, Rietvallei, Oude Muragie, Middelplaas en Vlakteplaas) word gemaan om drinkwater te kook tot tyd en wyl die waterkwaliteit na normaal terugkeer.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'