OUDTSHOORN NUUS - Katriena Loggenberg het dit haar doel gemaak om behoeftige kinders en bejaardes te help, veral sedert die pandemie.
Loggenberg het in 2016 die Masincedisane Community Organisation gestig.
Sy werk van haar huis in 17de Laan af en hier maak sy drie keer 'n week vir tussen 200 en 300 mense op haar tweeplaatstofie kos.
"My organisasie is geregistreer en ons werk elke dag in die gemeenskap. Die armoede en hartseer daar buite is vreeslik erg en sedert die pandemie is dit nog erger. My doel is om te help so ver as wat ek kan. Ek glo in wat jy saai sal jy maai en ek moet my naaste help. Ek fokus veral op die kinders en die bejaardes."
Loggenberg sê sy het altyd haar huis vir die kinders oopgemaak.
"Ek was 'n vrywilliger by die departement maatskaplike dienste en my huis was 'n veilige hawe vir baie kinders. My groot droom is om 'n gebou of struktuur te hê waar ek programme kan aanbied om die straatkinders te rehabiliteer en terug in die skool te kry. Ek wil graag ook programme aanbied waar ek ouers kan leer om beter ouers te wees en hulle help om verhoudings met hulle kinders te bou. Ek is besig om boumateriaal bymekaar te maak sodat ons 'n geboutjie kan bou waaruit ek kan werk, want op die stadium doen ek als van die huis af. Mens kan ongelukkig nie al die belangrike goed met die kinders doen en vir hulle sê as hulle in 'n ry staan vir kos nie."
Loggenberg doen ook al haar liefdadigheidswerk op eie onkoste.
"Ek het net pensioen, maar ek gebruik dit om mense wat minder as ek het te help. Dit is my droom en dit is waarvan ek hou om te doen. Ek het 'n passie vir my medemens. Ons ander groot behoefte is 'n groot pot om in kos te maak. Ek en my bestuur is daagliks in die strate om kos in te samel en die bejaardes se kosbakke te gaan haal. Die kinders kom haal die kos by die huis en ons lewer weer die bejaardes se kos by die huise af."
In 'n poging om Loggenberg met haar projek te help het die Oudtshoorn-besigheidskamer 'n Kosbank-projek begin om haar te help om kos aan die behoeftiges te voorsien.
Hulle maak nie-bederfbare goedere bymekaar en skenkings sal op 'n gereelde basis aan haar oorhandig word.
Daar is mandjies by Pick n Pay, Oudtshoorn Spar, Camp Roadhouse en Wes-Handelshuis waar skenkings ingesit kan word.
Vir verdere inligting kan Helen Butler by 084 443 6320 of 076 199 6106 geskakel word. Enigiemand wat boumateriaal of ander skenkings aan Loggenberg wil skenk kan haar by 079 842 3909 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'