OUDTSHOORN NUUS - Twee mans van Oudtshoorn, Marshall Koopman, 'n bekende brandweerman, en Kurt Roode, het verlede Sondag twee katjies uit die enjinruim van Roode se motor gered.
Volgens Roode het hy van sy vriendin se huis af gery en iets onder sy motor se enjinkap gehoor.
"Dit het geklink soos twee katte wat baklei, maar ek het gedink hulle is buite. Ek het 'n rukkie later besef die geluid kom uit my kar uit en het in Jonesstraat gestop en vir Marshall gebel."
Volgens Koopman was die een katjie agter die motorbattery vasgekeer en die ander een het agter die stuurmeganisme vasgesit.
"Ek kon die een agter die battery uitkry, maar hy het uit my arms gespring en weggehardloop."
Die twee mans het daarin geslaag om die een wat vasgesit het uit te kry, maar hy het verskeie wonde gehad. "Hy het redelik seer gehad en ek het hom skut toe geneem," het Roode gesê.
Die katjie wat in die enjinkap vasgesit het.
Magda Davel, bestuurder van die munisipale skut, het gesê die katjie moes ongelukkig weens die aard van sy beserings uitgesit word. Roode sê die voorval was vir hom baie hartseer.
"Ek is vreeslik lief vir diere. Dit was hartseer om die klein katjie so te sien. Ek is jammer hy het dit nie gemaak nie. Ons het probeer om die ander enetjie te vang ook, maar hy was té vinnig weg."
Kurt Roode,
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'