DE RUST NUUS - Die aanrandingsaak van 'n egpaar van De Rust wat van aanranding met die opset om ernstig te beseer op Deon Bosman, sakeman van Oudtshoorn aangekla word, het Maandag in die landdroshof op Oudtshoorn begin.
Stephen (45) en Minnie (55) Robson word daarvan aangekla dat hulle op 17 Januarie 2018 vir Bosman, eienaar van Super Car Wash, in sy kantoor aangerand het deur hom met 'n knuppel oor sy kop te slaan, te skop en te trap.
Hulle ontken skuld. Die aanranding gaan glo oor plasings op Facebook.
Bosman het Maandag getuig dat die Robsons die betrokke dag by sy kantoor ingestorm en Stephen hom agter sy lessenaar geklap en daarna, terwyl hy op die vloer gelê het, geskop en getrap het. Hy het later daarin geslaag om 'n knuppel uit 'n laai te haal om homself teen Stephen te verdedig.
Minnie Robson het die knuppel by hom afgeneem en hom daarmee oor sy kop geslaan waarvoor hy later ses steke moes kry. Hy het 'n blikkie pepersproei uit 'n laai gehaal waarmee hy die egpaar in hul gesigte gespuit het.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Johan Wagener, het dit aan Bosman gestel dat hy leuens vertel waarop Bosman geantwoord het "die waarheid bly die waarheid".
'n Destydse werknemer van Bosman, Ruan Nel, het getuig dat hy Stephen van die klaer afgetrek het en ook met die vuishou bygedam is voor hy die polisie kon bel. Wagener het dit ook aan hom gestel dat hy en Bosman se weergawes verskil oor die houe wat Bosman toegedien is.
Wagener het dit verder aan Nel gestel dat hy nie in die kantoor was toe Bosman die egpaar met pepersproei gespuit het nie. Wagener is 'n paar keer deur landdros Marius Nel in die rede geval tydens sy kruisondervraging van Bosman en Nel.
Hy het Wagener versoek om sy vrae meer duidelik te stel en nie in die lug te laat hang nie.
Hy het hom ook versoek om nie die getuies se karakters aan te val nie. Die saak is voorlopig tot 9 Maart.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'