OUDTSHOORN NUUS - Dis feestyd in Oudtshoorn – dié keer met klassieke musiek en 'n winterbaadjie – wanneer die 14de Klein Karoo Klassique vandag, Donderdag 3 Augustus begin.
Gehore kan uitsien na van ons land se voorste klassieke musici, musiek- en boekgesprekke, kuns, kos en wyn met 'n program wat dié naweek tot Sondag 6 Augustus vele geleenthede bied om saam te kuier in die Klein-Karoo.
'n Musikale hoogtepunt is 'n Karoonag met die Suid-Kaap Kinderkoor en vriende môreaand, Vrydag 4 Augustus om 19:00 in die Burgersentrum. Dié multi-bekroonde streekkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, is te sien saam met musieklegende Coenie de Villiers en twee soprane van Kaapstad Opera, Brittany Smith en Alida Scheepers.
De Villiers sê dit is vir hom heerlik om saam met 'n koor op te tree, veral 'n koor van jonger stemme. "Koormusiek is die plek waar jongmense dikwels hulle lewenslange reis met musiek begin. Vir my as solis is daar niks lekkerder as om die groot klank van 'n koor óm jou te hoor nie, veral as dit musiek is wat uit jou eie pen kom." Hy sing Katedraal en Karoonag saam met die koor.
De Villiers is van die begin van die fees in Oudtshoorn, waar hy Vrydag en Saterdagoggend gesprekke met kunstenaars oor die werk wat uitgevoer word fasiliteer.
Borge en kaartjies
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-musiekstigting en die ATKV, met addisionele ondersteuning van Le Lude, Rosenhof Country House, Oudtshoorn-munisipaliteit en Oudtshoorn Courant. Die fees se verblyfborge is Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Protea Hotel Riempie Estate, Queen's Hotel by Bon Hotels, Ravenscliff Manor, Turnberry Boutique Hotel en Wildehondekloof Game Reserve.
Die program is beskikbaar by klassique.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay, of die KKNK-kantoor. Kaartjies word ook voor elke optrede by die deur verkoop, onderhewig aan beskikbaarheid. 'n Eksklusiewe Klassique-pakket bied toegang tot nege uitvoerings teen 'n besparing van 30%. Vir verblyfopsies in en om Oudtshoorn, besoek Klassique se verblyfvennoot LekkeSlaap.
Alida Scheepers
Brittany Smith
Coenie de Villiers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’