OUDTSHOORN NUUS - Karoo Kaarte is ’n grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry.
Woensdagmiddag 21 Januarie het die Karoo Kaarte-span bymekaargekom by die Toekomsrus-gemeenskapsaal om foto's uit argiewe te kies vir die opkomende KKNK hierdie jaar.
“In 2026 vier ons nie net die 30ste KKNK op Oudtshoorn nie, maar ook vyf jaar van Karoo Kaarte, ’n projek wat stadig maar seker die manier verander het waarop plattelandse geskiedenisse gedokumenteer, gedeel en herverbeel word. Wat begin het as ’n klein eksperiment in gemeenskapsvertelling, het sedertdien ontwikkel in ’n bekroonde model vir gemeenskapsgedrewe kulturele programsamestelling. Danksy samewerking en sorg kon Karoo Kaarte oor dié vyf jaar sitkamers betree, deur familiealbums blaai en te hore kom van herinneringe van toeka se tyd, waarmee ’n lewende argief saam met die mense van Oudtshoorn opgebou is.” noem JC Aucamp, bemarkingsbestuurder, KKNK.
“Vir hierdie mylpaal keer die span terug na plaaslike fotografie om die uitruil van herinneringe, beelde, kennis en sorg tussen gemeenskappe, dikwels lank geskei deur ras, geografie en toegang sigbaar te maak.”
Dié veelbekroonde gemeenskapsprojek se kern draai rondom Oudtshoorn-stories wat nie voorheen vertel of gedokumenteer is nie. Stories oor persoonlike ruimtes, herinneringe uit kinderdae en tradisionele kennis van dié Klein Karoo-dorp en sy mense.
’n Lewende argief word deur alle deelnemers aan die opwindende projek saamgestel en ’n platform word geskep wat plaaslike talent na die voorgrond bring, om die nasionale kollig te verbreed en kunstenaars uit eie bodem in te sluit.
Lees meer hieroor in die week se Oudtshoorn Courant.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’