KANNALAND NUUS – 'n Raads-vergadering van Kannaland-munisipaliteit met 'n lywige agenda kon nie Dinsdag plaasvind omdat Icosa- en die DA-raadslede nie teenwoordig was nie.
Icosa-president, Jeffrey Donson, het in reaksie hierop gesê dat die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, reeds opdrag gegee het dat die waarnemende munisipale bestuurder, Ian Avontuur (ANC-lid), die huidige speaker, Rodge Albertus, moet vervang.
Donson sê ook dat Bredell 'n skrywe van Albertus se party, Kannaland Independent Party (KIP), ontvang het dat Albertus deur die party geskors is en gevolglik nie meer die posisie as speaker mag beklee nie.
Volgens Donson is hierdie vergadering onwettig en kan hy nie toelaat dat Icosa aan onwettighede deelneem nie.
KIP het ook in hul skrywe aan Berdell aangedui dat Peter-George Rooi hul voorkeurkandidaat is om Albertus te vervang.
Die OVK is ook alreeds ingelig van Albertus se skorsing.
Raadslid Aletta Steenkamp van die DA het telefonies aan Oudtshoorn Courant genoem dat sy weens persoonlike redes nie die vergadering kon bywoon nie en dat sy betyds verskoning ingedien het.
Nadat dit duidelik geword het dat daar geen vergadering gaan plaasvind nie, was daar 'n hewige woordewisseling buite die stadsaal tussen Albertus en lede van die publiek. Die plaaslike polisie het deurentyd 'n sterk teenwoordigheid gehandhaaf.
Op die agenda van dié vergadering word daar weer melding gemaak van 'n tugsaak teen drie Icosa-raadslede, Donson, Werner Meshoa en Hyrin Ruiters. Verder was daar ook die aanstelling van 'n waarnemende direkteur van infrastruktuur en gemeenskapsdienste op die agenda.
Nicky Valentyn (ANC), huidige burgemeester van Kannaland, het bevestig dat die vergadering wel binne sewe dae sal plaasvind.
Ian Avontuur (ANC) is Kannaland se waarnemende munisipale bestuurder. Foto's: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'