KANNALAND NUUS - "Vir agt jaar was Icosa nie alleen in beheer van die raad nie en dus vir agt jaar het hierdie projek, waar die harte van kindertjies en die bejaardes van Kannaland met ’n pakkie en ete vir bejaardes verbly is, stilgestaan. Daarom verskaf dit vandag vir my groot vreugde om vir julle ’n pakkie te gee. Volgende Donderdag, 14 Desember, kom die bejaardes aan die beurt."
So het Jeffrey Donson, burgemeester van die Kannaland-munisipaliteit, sy Kersboodskap aan ’n gemeenskapsaal vol kindertjies in Ladismith begin. Donson het ook die kinders gewaarsku teen die gevare wat die Kersvakansie normaalweg vir inwoners van dorpe regoor die land inhou.
"Kinders, bly weg van die damme, moenie dat ons ’n somber Kersfees as gevolg van verdrinkings moet beleef nie. Onthou grootmense hou ook gevare vir kinders in. Moenie in vreemde karre klim nie. Hardloop so vinnig as jy kan weg."
Donson het ook die geleentheid raak gesien om aan die volwassenes, wat hul kinders en kleinkinders vergesel het, in te lig dat 2024 die jaar is wanneer nuwe huise in Ladismith en Zoar gebou gaan word.
"Calitzdorp se behuisingsprojek is voltooi. Nou is dit Ladismith en Zoar se beurt."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'