LADISMITH NUUS - Algeron Kennel (34), staan bekend as Kannaland se eie Rembrandt en sy droom is om eendag sy eie ateljee te hê.
Een van sy mees onlangse kunswerke is die een van sy werkgewer se eerste melktenkwa op doek verewig.
Hierdie skildery het die werkgewer 'n inskrywing op hul Facebook-blad laat maak wat lees: "Meesterlik. Dankie Algernon Kennel, ons eie uiters talentvolle personeellid."
Kennel se bekendheid het vinnig toegeneem. Volgens hom doen hy opdragtestukke vir kunsliefhebbers oor die hele Suid-Kaap. Van sy skilderye hang ook in wonings in Kaapstad.
Kennel kon nog nie sy droom van 'n eie ateljee verwesenlik nie en werk nog vanaf sy huis in Ladismith.
Kennel het ook 'n skildery van 'n tweeling van Oudtshoorn gemaak wat hy van 'n foto af geskilder het.
Volgens hom geniet hy sy werk en ag hy homself bevoorreg om nie tussen sy kuns en sy werk hoef te kies nie.
"Ek geniet albei, my werk en my kuns. Ek is gelukkig dat ek nie tussen die twee hoef te kies nie en beskou ek my kunswerke glad nie as 'n bron van inkomste nie."
Kennel skroom dan ook nie om alle eer aan sy Skepper te gee vir sy talent nie.
"Tussen al die bedrywighede van my sketse en werksverpligtinge, maak ek tyd om my geloof uit te leef en woon ek ook op 'n gereelde basis mannekampe by waar ek geestelike verryking vind."
Kennel se droom is om ook die jeug van Ladismith by sy kuns te betrek.
Die skildery wat Algeron Kennel vir sy werkgewer gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'