CALITZDORP NUUS - Na aanleiding van 'n berig in Oudtshoorn Courant, 12 September, rakende riool wat by die Bergsig-begraafplaas in die dorp by grafte insyfer, het die munisipale bestuurder van Kannaland-munisipaliteit, adv. Dillo Sereo, skriftelik aan die koerant gereageer.
Madrilende Claassen, 'n inwoner van Calitzdorp, was sy diep geskok oor die toestand waarin haar familie se grafte is. Sy het die koerant genader om hulp.
Claassen het vertel dat sy haar ouma en oupa se grafte in die Bergsig-begraafplaas gaan besoek het, en besef dat buiten dat die grafte beskadig is, syfer daar riool in hul familie se grafte in. Volgens haar is die riool afkomstig van die rugbyveld naby die Bergsig-begraafplaas en sukkel sy al 'n geruime tyd met die Kannaland-munisipaliteit.
Intussen is die volgende kommentaar vanaf die Kannaland-munisipaliteit ontvang.
Munisipale bestuurder reageer:
"Dit is met groot berou dat so 'n ongeluk onder ons inwoners van Calitzdorp plaasgevind het. Die munisipaliteit het dringend ingegryp oor die saak toe dit onder ons aandag gebring is.
Tans is die munisipaliteit in die proses om dit te ondersoek. Die munisipaliteit het die water herlei sodat dit nie die begraafplaas binnegaan nie. Die water word nou na die rugbyveld gekanaliseer totdat pompe wat aangekoop is by die munisipaliteit afgelewer word. Die pompe sal nie later as 18 September vervang word nie.
Departement stel ondersoek in
Oudtshoorn Courant was in kontak met die departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings-beplanning oor die kwessie.
Wouter Kriel, woordvoerder van die departement plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het bevestig dat die departement onmiddellik hieraan aandag gee aangesien dit die eerste keer is wat hul bewus gemaak is van die klagte.
"Die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning is tans besig om die kwessie te ondersoek."
Vorige artikel: Riool syfer in grafte in by Bergsig begraafplaas in Calitzdorp
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’