KANNALAND NUUS - Die DA is weer stewig in die saal in Kannaland nadat 'n mosie van wantroue vandag suksevol teen twee raadslede van ICOSA voor die raad gelê is.
Die DA se kiesafdelingshoof van Kannaland, Gillion Bosmann het die mosie in 'n mediaverklaring bevestig.
Die mosies van wantroue in Werner Meshoa, wat die speaker was en Hyrin Ruiters, wat op die distriksraad gesit het, is vandag tydens 'n raadsvergadering goedgekeur.
Meshoa is verlede maand aan bedrog skuldig bevind en moet nog gevonnis word.
Volgens Bosmann is Hyrin Ruiters verwyder omdat hy nie die belange van die meerderheid van die Kannaland-raad verteenwoordig nie en omdat hy glo die reëls van die raad geminag het.
Die mosies van wantroue het tot gevolg dat Aletta Theron van die DA, weer in die speakerstoel sit en Joslyn Johnson van die DA nou Kannaland op die Tuinroete distriksmunisipaliteit verteenwoordig.
Kannaland was sedert 6 November 2020 onder beheer van die ANC en ICOSA.
Daardie bordjies is nou verhang en die situasie is weer soos na die vorige plaaslike verkiesing toe die DA en ANC in Kannaland saamgewerk het om ICOSA se beheer teë te staan.
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'