KANNALAND NUUS - 'n Munisipale amptenaar van die Kannaland-munisipaliteit, wat in 2017 geskors is na 'n interne tugverhoor teen hom, is die week summier uit sy pos ontslaan.
Hendrik Barnard, die gewese direkteur van korporatiewe dienste van die Kannaland-munisipaliteit, is op 10 klagtes skuldig bevind.
Die klagtes hou verband met growwe nalatigheid, onregmatige aanstellings, onregmatige uitbetalings van bonusse, na-uurse werk en verhogings, sowel as 'n klagte van onregmatige aanstelling van McGrandle Makier in verskeie posisies binne die munisipaliteit.
Barnard het onskuldig op al tien klagtes teen hom gepleit.
Adv. EW Vermaak was die voorsittende beampte in die verhoor en het besluit dat hy wel skuldig is op die klagtes en summier afgedank moet word.
Ian Avontuur, woordvoerder van die Kannalandse burgemeester, Magdalena Barry, sê hulle het die uitslae van die tugverhoor verwelkom.
"Daar is ook strafregtelike klagtes teen Barnard by die Valke ingedien, en daar is 'n sterk moontlikheid dat Barnard ook krimineel vervolg gaan word."
Avontuur het ook daarop gewys dat Barnard se ontslag beteken dat hy ingevolge wetgewing vir 10 jaar lank op 'n swartlys gaan kom en nie weer vir enige munisipaliteit mag werk nie.
"Ons hoop dat Barnard se saak die boodskap duidelik tuisbring dat korrupsie en wanadministrasie onaanvaarbaar is."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'