KANNALAND NUUS – Kannaland-munisipaliteit het verlede week die kontrak van sy waarnemende munisipale bestuurder, Keith Jordaan, tydens 'n raadsitting beëindig.
Hendrik Barnard, wat in 2021 van bedrog by Kannaland-munisipaliteit beskuldig is, is tydens dieselfde sitting as waarnemende munisipale bestuurder aangestel.
Jordaan is aanvanklik op 21 Oktober 2022 as waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland in die plek van Ian Avontuur aangestel toe die Icosa-koalisie beheer oor die raad geneem het.
Dié koalisie, onder burgemeesterskap van Jeffry Donson, het dit egter vandeesweek duidelik gestel dat Jordaan nie afgedank is nie, maar dat sy drie maande kontrak bloot oor 'n paar dae in elk geval sou verstryk het. Donson sê dit is die raad se prerogatief om werkskontrakte te hernu, al dan nie.
"Daar is niks fout of sinister met ons besluit nie. Die pos sal geadverteer word en die beste kandidaat sal in die pos aangestel word," het Donson verseker.
Jordaan het in 'n verklaring genoem dat hy Kannaland as 'n beter plek agterlaat.
"Ek laat Kannaland as 'n beter streek agter as voor Oktober 2022 toe ek dit gevind het. Myns insiens het baie kwessies by Kannaland intussen gestabiliseer omdat dit eenvoudig is om dinge te laat gebeur. Jy kies om dinge te laat gebeur; goeie regering is 'n keuse en kan maklik geskied," het Jordaan gesê.
Jordaan se aanstelling verlede jaar is as omstrede beskou omdat hy in 2019 weens wanadministrasie van bykans R300 miljoen afgedank is terwyl hy die finansiële hoof van die George-munisipaliteit was.
Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering van die Wes-Kaap, het bevestig dat Jordaan nie permanent in 'n plaaslike regeringspos aangestel kan word vir minstens 10 jaar ná sy afdanking in 2019 nie.
Die einste Barnard is in 2021 deur die Valke gearresteer nadat hy na bewering by bedrog van R338 miljoen by Kannaland-munisipaliteit betrokke was. Barnard was ten tyde van sy arrestasie die direkteur van korporatiewe dienste.
Barnard sal volgens Donson slegs tydelik die waarnemende munisipale bestuurder posisie waarneem totdat 'n geskikte kandidaat aangestel word.
Keith Jordaan. Foto: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Karoo nuus'