Update Video
OUDTSHOORN SPORTNUUS EN VIDEO - Die allergewilde Kango-marathon het verlede Saterdag weer na drie jaar, in Oudtshoorn plaasgevind. Drawwers vanoor Suid-Afrika het na Oudtshoorn gestroom om aan hierdie marathon deel te neem. Die marathon is deur Iron Jawed Multisport-atletiekklub aangebied.
Atlete is vroegoggend reeds tussen 03:00 en 05:00 in Oudtshoorn opgelaai en onderskeidelik na Ou Tol (21,1 km) en Kango-grotte (42,2 km) geneem waar hulle om 06:00 weggespring het.
'n Totaal van 697 atlete het vir die 21,1 km ingeskryf waarvan 600 gehardloop het en 1 050 atlete vir die 42,2 km ingeskryf waarvan 1 007 gehardloop het - 700 atlete het vir die Comrades- en Twee Oseane-marathon gekwalifiseer as gevolg van die Kango-marathon. Die eerste wenner in die halfmarathon het net na 07:00 oor die wenstreep gesnel.
Ernest Viviers, voorsitter van Iron Jawed Multisport, sê dat daar geen ernstige beserings was nie.
Viviers skat dat die geleentheid na raming ongeveer R6 miljoen vir die plaaslike ekonomie ingebring het. Viviers en Pienaar Muller van Wilgewandel-vakansieplaas, asook organiseerder van die Kango-marathon, voel oorweldig met die positiewe terugvoering wat hulle op sosiale media ontvang het.
"Dit sê vir ons dat die wedloop op die regte pad is. Almal is dit eens dat hulle nie kan wag vir Kango-marathon 2024 nie," sê Viviers. Viviers het ook bevestig dat die geleentheid nou jaarliks op die laaste Saterdag van Februarie sal plaasvind.
"Ons wil graag die Oudtshoorn-munisipaliteit bedank vir hul bydrae tot die wedloop; in besonder die burgemeesterskantoor van Chris Macpherson sowel as die gemeenskap, vrywilligers en besighede van die dorp. Ook 'n spesiale dankie aan ons borge wat bygedra het tot die sukses van die wedloop," sê Viviers.
Die prysuitdeling het om 12:00 op Langenhoven Gimnasium se sportterrein plaasgevind.
VIDEO - Oudtshoorn Courant gesels met die organiseersers van die Kango-marathon
Uitslae 21,1 km:
Topdrie mans:
- Selwyn Matthews, Nedbank SWD - 1:05:31 (algehele wenner in die 21,1 km)
- Anderson Ncube, Rainbow AC - 1:07:59
- Francois Maquassa, Nedbank SWD - 1:10:34
Topdrie vroue:
- Carla Malinaro, Wanderes AC - 1:17:55
- Melissa van Rensburg, Nedbank SWD - 1:22:15
- Rebecca Köhne, Temp - 1:23:31
Uitslae 42,2 km:
Topdrie mans:
- Bernardo Fredericks, Nedbank SWD - 2:30:44 (algehele wenner in die 42,2 km)
- Rory Scheffer, Wanderes AC - 2:31:47
- Willard Jussah, Nedbank SWD - 2:37:19
Topdrie vroue:
- Sarah Silber, RunZone - 2:58:32
- Danette Walley, Murray & Roberts - 3:02:24
- Linda Kinloh-Smith, Belville AC - 3:10:01
Die laaste twee atlete, Hendrika Lekay, en Zoleka Mazwi Chillies was met 'n gejuig van die skare en alarm van verkeersbeamptes oor die wenstreep gedra.
Vorige artikels:Allergewilde Cango Marathon weer aan
Rory Scheffer (tweede man in die 42,2 km) en Carla Molinaro (eerste vrou in die 21,1 km).
Hendrika Lekay en Zoleka Mazwi Chillies was die laaste twee atlete oor die wenstreep. Foto: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'