OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn, wat tans 'n vonnis van agt jaar uitdien vir kabeldiefstal, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof nog elf jaar effektiewe gevangenisstraf opgelê nadat hy weer aan kabeldiefstal skuldig bevind is.
Hy is ook op drie aanklagte van besit van vermoedelik gesteelde eiendom en beskadiging van belangrike munisipale infrastruktuur skuldig bevind.
Darries is op 11 Oktober 2018 in Adderleystraat met koperkabels van Telkom betrap. Op 21 November 2018 is hy in besit van 'n motorfietsbattery betrap en op 7 Januarie 2019 met 'n JVA Champion battery.
Op 11 Maart 2019 is hy in die omgewing van Onverwacht in hegtenis geneem met 15 meter elektriese kabels, eiendom van die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat verband gehou het met die beskadiging van belangrike infrastruktuur by die Oudtshoorn-lughawe.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het met vonnisoplegging gesê Darries is aan ernstige misdrywe skuldig bevind en ook nie 'n eerste oortreder nie.
Hy is drie jaar tronkstraf opgelê vir diefstal, drie jaar vir die besit van gesteelde goedere en agt jaar vir die beskadiging van belangrike infrastruktuur. Die landdros het gelas dat die vonnis vir die besit van gesteelde goedere samelopend met die vonnisse vir diefstal en beskadiging van infrastruktuur uitgedien word.
Die hof het 'n versoek van Darries se regsverteenwoordiger dat die vonnisse samelopend met die vorige vonnis van agt jaar uitgedien kan word, van die hand gewys.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'