OUDTSHOORN NUUS - Een van die Attaqua-hondeenheid se bekendste honde, Frikkie, 'n skaaphond wat spesialiseer in die opsporing van biologiese liggaamsvloeistowwe, gaan aftree.
Frikkie was vir meer as ses jaar saam met sy hanteerder, ao. Dirk Greeff, deel van die hondeenheid. Saam het hulle heelwat ernstige misdade soos bendegeweld, moord, verkragtings en so meer opgelos.
Greeff was Donderdag 30 Januarie ten tyde van 'n besoek aan die Sonstraal-kleuterskool in Rosevalley, in gesprek met Oudtshoorn Courant.
Tydens besoeke soos dié, gesels hy met kinders oor misdaad in 'n taal en op 'n manier wat hulle verstaan. "Al is julle nog baie klein, is julle tog groot genoeg om te weet wanneer iets verkeerd is, die regte besluite te neem en julle kan 'n groot verskil maak om dit te rapporteer."
Deur die jare het die twee 'n bekende gesig by skole in Oudtshoorn geword. Frikkie is natuurlik deel van die besoeke en was dit basies sy laaste dag om sy vaardighede te deel.
Nadat Greeff die kleinspan gerusgestel het dat Frikkie 'n vriendelike polisiehond is, het Frikkie soos 'n meester-snuffer blitsig die DNS-monsters, tot groot vermaak van die kleinspan, uitgesnuffel.
Frikkie se laaste vertoning as 'n amptelike polisiehond was vol drukkies en glimlagte. "Ons werk al ses jaar saam, ons het 'n band. Ek beoog om hom by die staat te koop.
Frikkie het 'n hartprobleem en die veearts in Kaapstad het bepaal dat hy moet aftree. Hy sal die nodig medikasie kry en rustig by die huis aftree."
VIDEO
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’