Dit het plaasgevind op Neels Meyer se plaas, Kouma, ongeveer 40km vanaf Mosselbaai. Die doelstellings wat nagestreef word is om jongmense wat in die buitelewe belangstel, aan verskillende aktiwiteite soos die jagsport, kampering, rugsak-stap, voëlkyk, hengel, boogskiet, natuurfotografie, skyfskiet en meer, bekend te stel en toe te rus om makliker in die toekoms keuses te kan maak rondom gesonde buitelug ontspanning.
Dit was weereens baie suksesvol aangebied.
Daar word voortdurend geskaaf en vernuwe om tred te hou met veranderende omstandighede en behoeftes, wat bydra dat elke opleidingsessie nuwe uitdagings vir beide die studente asook die personeel inhou.
Aktiwiteite wat prakties aangebied en ingeoefen word, behels die regte keuse van ‘n skuilplek, korrekte opslaan van ‘n tent, elemetêre toeligting vir die verkryging van water vir oorlewing, knope en vaswoele, nodige hand- en noodseine, korrekte nagbeweging, hulpmiddels vir oorlewing, inheemse flora en fauna, gevare gedurende beweging in die veld, elementêre eerstehulp en afvoer, veilige maak van vure, oordeelkundige pak van ‘n rugsak en die effektiewe waarneming met die doel om te bewonder en te bewaar en om tydens noodsituasies in die veld te kan oorleef.
Spesialis-lede van die vereniging, naamlik Louis Jordaan van Minwater, het die studente trakteer met sy ongelooflike flora-kennis asook gevare in die veld, terwyl Noël Honeborne ‘n aanbieding oor voëls gedoen het wat elke student met ander oë en geïnspireerd huis toe laat gaan het. Evaluasie van die studente se belangstelling, verantwoordelike optrede, leiereienskappe, kommunikasievaardighede en die inskakeling by groepwerk, vind deurlopend plaas.
Aktiwiteite soos die plant van ‘n eie inheemse waterbessieboom in ’n blikkie, die maak van ‘n eie kettie, skiet met ‘n pyl en boog, skiet met blaaspype soos wafferse pigmeë, bak van ‘n blikkiebrood in ‘n kleioond, toutrek in spanverband en voortdurend op die puntebord te gaan kyk watter span die voorlopers is, ‘n keerwal in die rivier te bou om die swemgat dieper te kry, met ‘n .22 in die wind te skiet, met stelte te kon loop, skeie te gooi, arm te druk vinger te trek en vele meer, is dinge wat ‘n selfoon, rugby op televisie en ‘n restaurant ver in die agtergrond plaas.
Alles te danke aan toegewyde lede van hierdie vereniging wat bereid is om tyd in te ruim om jongmense te begelei op ‘n ander vlak van grootword. Aangesien hierdie unieke geleentheid tot dusver beskore was vir slegs ‘n beperkte aantal kinders, is die kursus nou beskikbaar gestel vir gebruik deur laerskole nasionaal.
Skoolhoofde word aangemoedig om hierdie uiters belangrike deel van opvoeding te ondersteun en gebruik te maak van hierdie geleentheid. Vir meer inligting skakel gerus 044 695 2319,of Neels Meyer by 082 824 8603.

Die leerders leer van kaartlees en navigasie.