OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man van Prins Albert wat op Valentynsaand in ‘n geparkeerde motor geklim en weggery het, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof aan voertuigdiefstal skuldig bevind en vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Kellen-Lee McDonald het skuldig gepleit en in sy pleitverduideliking gesê dat hy die aand van 14 Februarie in Korporasiestraat, Prins Albert gestap en ‘n wit Mazda 6 met ‘n CY-registrasie met die sleutels in die aansitter, gesien het.
Hy het op die ingewing van die oomblik besluit om dit vir ‘n "joyride" te neem. Hy is toe deur die eienaar, Donovan Ontong, en van sy familie agtervolg.
McDonald het vinniger begin ry en die polisie het later skote op die motor gevuur waarna hy stilgehou het.
Volgens hom kon hy nie die motor terugneem nie en erken dat hy verkeerd opgetree het. Hy was ook onder die invloed van alkohol.
Sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof gevra om vergewensgesind te wees omdat sy kliënt skuldig pleit en nie so sou optree indien hy nugter was nie. Hy het ook nie beplan om die voertuig te steel nie.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat voertuigdiefstal ‘n ernstige misdaad is en McDonald nie ‘n eerste oortreder is nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het met vonnisoplegging gesê dit is duidelik dat McDonald se vorige skuldigbevindings nie die gewenste uitwerking op hom gehad het nie.
Die voertuig is nie in dieselfde toestand teruggevind nie en die klaer moes pa staan vir die skade. Die hof moet met vonnis ‘n boodskap uitstuur vir voornemende voertuigdiewe en ook met ‘n gepaste vonnis verhoed dat die gemeenskap nie die reg in eie hande neem nie, het Mandla gesê.
McDonald is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'