LADISMITH NUUS - Toe Reynold Beukman (28) van Ladismith Sondag besluit het om sigarette by 'n nabygeleë spazawinkel te gaan koop, het hy nooit kon dink dat hy in 'n polisiesel sou beland nie.
Beukman het 'n spraak- en gehoor-gestremdheid en praat moeilik.
Volgens hom het hy Sondagmiddag ongeveer 12:00 na die winkel gestap en was op sy selfoon besig toe die polisievangwa by hom stop.
"Die polisiemanne het uit die vangwa gevlieg en my gedwing om teen die vangwa te staan terwyl hulle my visenteer.
"Hulle het my foon geneem, my broeksakke deursoek en 'n botteltjie 'Tropika' uit my agtersak gehaal. Daar was bietjie whiskey in die bottel, maar ek was nie dronk nie. Ek het nog nie eens van dit gedrink nie. Ek het dit by iemand gekry en sou dit by die huis gaan drink het."
Beukman sê die polisie het hom glo op aanklag van dronk in die publiek in hegtenis geneem en is eers vier ure later vrygelaat. Na sy vrylating het die beampte vir hom 'n vorm gegee waarop die besittings wat hy ten tyde van sy arrestasie by hom gehad het gelys is, maar sy pa se naam, Riaan Beukman, was op die vorm ingevul.
Hy is die volgende dag terug na die stasie om "klagtes teen die beamptes in te dien".
Beukman het 'n video hiervan geneem. Hy beweer dat die beamptes nie sy klag wou neem nie, maar dat hy wel met die stasiebevelvoerder, lt.kol. Pauline Kriel, gesels het en die video vir haar gewys het.
Kriel het gesê dat die saak aandag sal geniet.
Beukman sê omdat hy doof is kommunikeer hy moeilik met mense.
"Hulle het my verneder en nie reg behandel nie. Ek is ontevrede met hoe die situasie verloop het."
Kriel het ook aan Oudtshoorn Courant bevestig dat 'n onafhanklike ondersoekspan die saak sal hanteer.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word die bewerings as ernstig beskou. Spies het gesê dat Beukman die situasie met die stasiebevelvoerder moet bespreek sodat dit op 'n skaflike wyse uitsorteer kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’