OUDTSHOORN NUUS - "Swartberg-tehuis in Dysselsdorp is 'n munisipale ouetehuis vir pensionarisse," so sê Walter Hendricks, munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn.
"Hierdie eenhede is bedoel vir bejaardes wat afgetree het en nie ander akkommodasie kan bekostig nie. Dit het nou 'n tendens geword dat jonges by hierdie bejaarde ouers intrek en wanneer hulle ouers sterf, dan neem hulle verdere okkupasie van die eenheid.
Hierdie tehuis beskik oor 37 eenhede.
Hendricks het ook gesê dat hierdie tehuis vir bejaardes 'n geleentheid skep om hulle dae ongehinderd in 'n veilig en versorgende omgewing te spandeer.
"Hierdie tehuis is nie geskep om jongmense te akkommodeer nie. Jonges wat saam met hulle ouers daar bly, of wie se ouers reeds oorlede is wat nou die eenheid bewoon, sal ongelukkig die perseel moet ontruim om plek te maak vir bejaardes," sê Hendricks.
Volgens Hendricks, het die omstandighede by Swartberg-tehuis daartoe gelei dat die munisipaliteit nou met 'n ontruimingsproses moes begin vir individue wat nie kwalifiseer om daar te bly nie.
"Ons kan nie toelaat dat jong individue aanbly en ons die regte van bejaardes se veilige hawe van hulle ontneem nie.
"Ons skend die regte van bejaardes as ons nie dadelik optree teen hierdie onwettige bewoners nie," sê Hendricks. Jongmense en onwettige bewoners is 'n drie-maande kennisgewing gegee om ander verblyf te soek. Volgens Hendricks het van die onwettige bewoners daarop aangedring dat die munisipaliteit 'n openbare deelnameproses moet begin. Hendricks het egter gesê dat daar geen wetsbepaling is om 'n openbare deelnameproses in dié verband te volg nie.
"Die Swartberg-tehuis is vir pensionarisse, bejaardes, afgetrede persone, nie vir jongmense nie. Hierdie was nog altyd hoe dit bedoel was om te wees," benadruk Hendricks.
"Is die munisipaliteit nou verplig om deur 'n openbare deelnameproses te gaan om ouer mense se regte te beskerm wat reeds in die Grondwet RSA 1996 vervat is?"
Die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit streef daarna om 'n munisipaliteit te wees wat omgee vir sy mense. "Een van die munisipaliteit se doelwitte is om 'n veilige en gesonde omgewing vir al sy burgers te bevorder," sê Hendricks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’