Update
KAROO NUUS - "Ons stap nie alleen nie, ons stap met die een wat weet wat op ons wag." Dit is met hierdie woorde waarmee ds. Jimmy Frans sy begrafnisrede van Raldon Ambros Saterdag hier ingelui het.
Ambros (13) is verlede week leweloos by sy ouerhuis aangetref nadat hy klaarblyklik sy eie lewe geneem het.
Rou snikke het die kerkgebou gevul toe die lied van Donna Tabbert, Jealous of The Angels oor 'n klankstelsel gespeel is.
Hierna het, 'n by tye aangedane ds. Frans van die Zoar VGK-gemeente sy hartroerende boodskap begin.
"Hierdie is 'n hartseerdag vir die hele Kannaland. Raldon se dood, en dit wat klaarblyklik daartoe aanleiding gegee het, kla ons almal vandag aan. Gaan vandag huis toe en gee jou kind 'n drukkie en sê vir hom of haar hoe lief jy hom of haar het. Verduidelik aan jou kind dat daar geen voorwaardes is waarom jy hom lief het nie, of hulle presteer of nie, ongeag voorkoms."
Frans het aan 'n gemeenskap in rou genoem dat toe hy voorbereiding vir hierdie diens gedoen het, die vraag by hom ontstaan het: "Wat sou jy wou hê daar vandag op die begrafnis van jou kind gesê moes word, Jimmy Frans?
My gedagte het gegaan na Habakuk 3 verse 11-19 "Al sou die vyeboom nie bot nie en aan die wingerdstok geen vrug wees nie en geen beeste in die stalle nie, nogtans sal ek jubel in die Here.
Frans se preek deel die sentiment van die opvoedkundige sielkundige, Quinton Adams, wat sê dat afbrekende gedrag manifesteer wanneer afknouery plaasvind.
"Ons sien nie die sistematiese aftakeling en brose psige van die kind wat geboelie word nie," was Adams se kundige opinie.
Frans het Raldon se ouers met die volgende woorde bemoedig: "Die Here sal julle weer versterk soos ribbokke; sal julle weer sterk word en hoogtes bereik."
Vir die jeug het Frans ook 'n duidelike boodskap gehad: "Nie almal kan skoene of klere met 'n duur handelsmerk bekostig nie, nie almal is atlete of sportsterre nie - hou op terg. Ouers neem verantwoordelikheid vir jul kinders se dade en waarsku hulle ernstig teen boelie en jaloesie. Raldon kon ten spyte van tekortkominge die eerste akademiese klasposisie syne maak; dit is hoe my God werk, hy seën elkeen anders, het Frans benadruk.
Vorige artikel: Tienerselfdood skok gemeenskap
Familielede dra die kis uit die kerk terwyl ds. Jimmy Frans toekyk. Foto's: Deon Meyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’