LADISMITH NUUS - Die klaarblyklike selfdood van Raldon Ambros (13) het verlede week skokgolwe deur die gemeenskap van Kannaland gestuur.
Raldon was ten tyde van sy dood 'n leerder verbonde aan Hoërskool Ladismith en was woonagtig in die Hoeko-omgewing.
Volgens Raldon se grootouers, Johannes en Roos Ambros, beskou hulle die rede vir hul kleinkind se dood een van afknou en terg.
"Raldon is gereeld by die skool gespot en was dikwels hartseer oor die tergery. Ons wou hê dat hy na 'n ander skool oorgeplaas word, maar dit het nie gebeur nie. Hy het verlede week sy hare gesny en was nie tevrede met die snit nie en was eintlik bang om weer skool toe te gaan aangesien hy bevrees was dat dit die gespottery sou vererger."
Volgens die skoolhoof van Hoërskool Ladismith, Alnorah Bell, was Raldon 'n skrander leerder wat gereeld die eerste posisie in die klas beklee het. Sy klasonderwyser, Andrea Job, was dit eens dat dit moeilik sal wees om sy leë plekkie in die klas te vul.
Intussen het die Ladismith-polisie 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
"Met die aankoms van die polisie op die toneel is die jong seun gevind waar die gesin noodhulp probeer toepas het. Die ambulans het opgedaag waarna paramedici die seun dood verklaar het. Geen gemene spel word vermoed nie."
Dr. Shanaaz Hoosain, senior lektor aan die Universiteit van Kaapstad, het by navraag gesê dat meer as 22% jongmense geneig is tot selfdood. Sy noem gebroke huwelike, afknouery op skool of selfs die dood van 'n geliefde van die redes vir selfdood.
Verder maan Hoosain dat gevalle waar jongmense hulself sny en pogings van oordosis medikasie neem nooit as aandagsoekery afgemaak moet word nie, maar in 'n ernstige lig beskou moet word.
Die begrafnis word, vir Saterdag 1 April vanuit die VGK op Hoeko beplan. Die diens sal 09:00 by die huis en 10:00 by die kerk wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’