OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Francois van der Bergh (18) van Oudtshoorn, wie se vrylating ingetrek is toe hy weer misdaad gepleeg het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir pleitonderhandelinge met die staat tot later die maand uitgestel.
Van der Bergh het in September 2017 by 'n huis in Victoriastraat ingebreek en 'n man na bewering vyf keer met 'n skerp voorwerp in die bors gesteek.
Hy is dieselfde aand met twee bebloede messe in sy besit in hegtenis geneem en aangekla van huisbraak en poging tot moord. Hy is daarna onder pleegsorg geplaas met verskeie voorwaardes onder andere dat hy nie weer by misdaad betrokke raak nie.
Hy is egter op 4 Junie vanjaar op aanklag van roof met verswarende omstandighede in hegtenis geneem nadat hy glo 'n man in Voortrekkerweg met 'n skêr gesteek en van sy selfoon beroof het. Sy regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof Maandag om uitstel gevra vir pleitonderhandelinge met die staat.
Die saak dien voor streeklanddros Neels Nortjé en is tot 13 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'