OUDTSHOORN NUUS - Marsha Wagenaar, leerder van Laerskool van Rheede, het verlede Vrydagoggend die Protea Hotel Riempie Estate se kunskompetisie (Me & My Ride) , in samewerking met die Oudtshoorn-munisipaliteit gewen.
In die proses het sy met 'n welkome kontantbedrag van R2 800 weggestap. Andy Piedt (R1 800) van Bergsig Primêr was in die tweede plek, gevolg deur Fernando van Niekerk (R1 300) van Saturnus Primêr wat in die derde plek geëindig het.
Colan Sylvester (burgemeester), Phillip Japhta (Eden onderwysdepartement vakadviseur en skeppende kunste) en Arthur Gillis (stigter van die Protea Hotel groep) was van die uitgelese gaste wat dié prysuitdeling bygewoon het. Altesaam nege laerskole van oor die groter Oudtshoorn het aan die kompetisie deelgeneem. Die leerders se uitstalling het saam met 'n besoek van die stigter van die Protea Hotel groep, Arthur Gillis, se oumotorgroep geval wat die dorp besoek het. Die groep het die vorige aand by dié hotel oornag om die volgende dag aan die George-oumotorskou te gaan deelneem. Gillis, is 'n oud-Oudtshoorniet wat sy laer en hoërskool opleiding by Van Rheede Primêr en Hoërskool Oudtshoorn onderskeidelik voltooi het.
As deel van die leerders se beloning vir hul deelname aan die kunswedstryd het hulle ook 'n geleentheid kry om 'n draai deur Oudtshoorn in dié veteraanmotors te ry.
Barend Smit, eienaar van Protea Hotel Riempie Estate, het in sy toespraak die gemeenskap vir hul opkoms na die geleentheid bedank, en gesê dat hierdie projek voorts 'n jaarlikse instelling gaan word. Hy was ook vol lof vir die uitmuntende kunstalent wat vertoon was deur die leerders.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'