OUDTSHOORN NUUS - Met 'n gemiddeld van 85,29% vir haar matriekeindeksamen, is die 18-jarige Joané van der Westhuizen Hoërskool Oudtshoorn (Struisies) se topleerder vir 2023. Sy is ook aangewys as die skool se duxleerder.
Om hierdie indrukwekkende resultaat te lewer, het Van der Westhuizen in vyf vakke A-simbole behaal. Afrikaans huistaal - 89%, Engels eerste addisionele taal - 90%, rekeningkunde - 85%, ingenieursgrafika en ontwerp - 89% en lewensoriëntering - 91%.
Uit hierdie prestasie blyk dit dat 'n wêreld van moontlikhede nou vir haar oopstaan, maar Van der Westhuizen sê sy wil eers 100% seker wees van wat sy wil studeer voor sy besluit wat om met haar toekoms te maak.
"Ek gaan hierdie jaar gebruik om seker te maak oor wat ek wil studeer en met daardie kennis in die tweede semester of dan volgende jaar deur Unisa studeer. Ek verkies om dit so te doen omdat ek doodseker wil wees sodat ek voluit in die regte rigting kan inspring," bieg sy.
Tydens haar matriekjaar was akademie nie die enigste aspek waarin sy uitgeblink het nie. Sy was boonop hoofdogter en die kaptein van die eerste hokkiespan.
Skool was ook nie alles nie. Van der Westhuizen vertel haar buitemuurse belangstellings sluit "enige iets met plante te doen" en ook hekel in, iets waarvan sy baie hou.
"In my vrye tyd hou ek daarvan om tyd saam met vriende deur te bring, koffiewinkels te besoek of te hekel."
Haar pa, JL van der Westhuizen, is die Nitsman in Oudtshoorn terwyl ma, Jana van der Westhuizen, die tuisteskepper van hul huis in Oudtshoorn is.
Struisies het vir die 2023-matriekeind-eksamens 'n slaagsyfer van nie minder nie as 98,9% behaal.
Die skool spog verder met agt A-kandidate, 78,7% van die Struisies kry universiteits-toelating, 74 uit hul 94 matrieks kry toelating tot graadkwalifikasie, 18 leerders vir 'n diploma-kwalifikasie en een leerder vir hoër sertifikaat-kwalifikasie.
Die topagt Struisie-matrikulante van 2023 saam met skoolhoof, Gerrit Rudolph (heel regs, agter). Voor, van links is Patience Mawela, Caley Summerton, Ninke Griffioen en Joané van der Westhuizen. Agter: Madri Botha, Herman Augustyn, Luc Pretorius en Daniel Wilck. Foto: Stefan Goosen
Die topdrie word afgerond deur Ninke Griffioen - 83,86% met vyf A-simbole en Herman Augustyn - 81,86% met ses A-simbole.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’