OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF), wat op 31 Julie 2010 die lig gesien het, het sy 10de verjaarsdag met 'n dankseggingsdiens in die Community Church in Springbokweg, Bridgton gevier.
Die forum het by dieselfde geleentheid ook sy eerste nuusbrief bekendgestel.
Die hoof- uitvoerende beampte van die forum, Johnny Baartman, sê die forum is as nie-winsgewende organisasie by die departement maatskaplike ontwikkeling geregistreer met 'n raad van beskermhere wat as vrywilligers uit die gemeenskap 'n oorsigrol oor die werksaamhede van die organisasie speel.
Volgens Baartman het hy en die projekbestuurder, Philip Seroux, die organisasie saam met ses kerklike jeugtakke gestig met die doel om 'n verskil te maak in die lewens van jongmense deur gereeld opvoedkundige programme en aktiwiteite aan te bied om hulle besig te hou.
Volgens Seroux, projekbestuurder, is die OCJF se vlagskipgeleentheid sy jaarlikse Erfenis- en Kultuurfees wat in September plaasvind. Ander projekte wat honderde jongmense betrek is die gereelde vakansieprogramme, Mandeladag- en Jeugdagvieringe.
Belangstellendes wat die OCJF wil ondersteun of die nuusbrief wil bekom, kan Seroux kontak by 079 987 9486.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'