OUDTSHOORN NUUS - Jannie de Bruin, een van Suid-Afrika se bekendste kulkunstenaars en buiksprekers, is op 11 Januarie ná 'n kort siekbed oorlede.
Jannie, wat op 17-jarige ouderdom as telegrafis by die poskantoor begin werk het, het vinnig sy passie vir vermaak ontdek.
Volgens sy seun, Sarel de Bruin, het Jannie met sy eerste konsert meer as 22 pond verdien - ver bo sy maandelikse salaris van 1 pond. Na dié sukses het hy bedank en saam met sy vrou, Zurika, begin toer. Hulle was ten tyde van sy dood 62 jaar getroud. Zurika het 'n belangrike rol in sy vertonings gespeel.
Die egpaar het later by die Circus Olympic aangesluit, en hul kinders, Sarel en Nols, het in skoolvakansies saam met die sirkus getoer.
"Ons het 'n opwindende kinderlewe gehad en die hele land vol gereis. Dit was wonderlik om al die bekendes te ontmoet," vertel Sarel.
Zurika en Jannie de Bruin. Foto verskaf
In 2000 het Jannie en Zurika na Oudtshoorn verhuis om nader aan Sarel te wees. Daar het Jannie die biltongwinkel by Pick n Pay gekoop, maar steeds aangehou om sy passie vir vermaak na te jaag. "Hy het mense absoluut liefgehad en het dit geniet om hulle te laat lag. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat nie van hom gehou het nie."
Jannie se vertonings, bygestaan deur sy sjarmante vrou, het bestaan uit kulkuns, illusies, swaardsluk, telepatie en buikspraak van wêreldklasgehalte. Hy en Zurika is drie keer as Suid-Afrika se amptelike kulkunskampioene aangewys.
Die laaste paar jaar het Jannie en Zurika in Mosselbaai deurgebring.
Jannie en Zurika het 'n paar maande gelede by Nols in Secunda gekuier en dit is ook waar sy familie agtergekom het dat hy agteruitgaan.
"Ons het besluit om hom daar te laat bly, aangesien dit te moeilik sou wees om hom te skuif," verduidelik Sarel.
Sy erediens sal in Mosselbaai gehou word. Enigiemand wat dit wil bywoon, kan Oxygim Oudtshoorn skakel by 044 272 7277 vir meer inligting.
Hy word oorleef deur sy twee seuns, Nols en Sarel en drie kleinkinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’