CALITZDORP NUUS - Dit is weer tyd vir Calitzdorp se jaarlikse groot konfyt-kook-maraton by Calitzdorp-stasie.
Vrydagaand 29 November om 18:00, begin die Appelkoos feestelikheid met ’n appelkoos-ontpitting-kompetisie by Calitzdorp-stasie. Na die kompetisie, word die appelkose en suiker in afsonderlike sakke geweeg vir die volgende oggend se groot kook.
Vanaf 07:00 Saterdagoggend, gaan die groot potte begin kook. Daar word jaarliks gepoog om 1 000 botteltjies appelkooskonfyt te maak, maar as gevolg van die droogte, sal daar hierdie jaar ongelukkig net genoeg appelkose wees vir 500 botteltjies.
Die konfyt sal Saterdag by die stasie te koop aangebied word, maar die res sal vandaar geneem word na Calitzdorp-toerisme vir verdere verkope solank voorraad hou. Alle fondse uit die verkope gaan na die Calitzdorp-gemeenskapskas waar dit aangewend word vir gemeenskapsprojekte in en om Calitzdorp.
Terwyl die konfyt-kook-maraton Saterdag plaasvind, tree die Donkiekar-boereorkes op en word die Kersfeesmark buite onder die prieël aangebied. Die Donkiekar-boereorkes het in 2015 die Nasionale Boereorkes-kompetisie en Kultuurfees in Kaapstad, Suidstreek-area, se afdeling ‘opkomend tradisioneel’ gewen en weggestap met verskeie trofeë.
Die Kersfeesmark se verskeidenheid stalletjies, sal ook sorg vir heerlike eetgoed en geskenkies. ’n Jaffle ontbyt en koffie sal van vroegdag af beskikbaar wees.
Vir middagete sal daar heerlike potjiekos met rys te koop wees. Die stalletjies sal ook sorg vir ideale kersgeskenke.
Foto's verskaf.
Enige iemand wat graag wil kom saamkook, kan vir Meiring by Calitzdorp-toerisme skakel. Om hierdie projek moontlik te maak, benodig hulle nie net kokers nie, maar ook fondse om die suiker, bottels, gas en etikette aan te koop. Kontak Meiring by 044 213 3775 of Zelma Kriek 082 576 5855.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'