OUDTSHOORN NUUS - Verkeer is Dinsdagoggend, 7 Oktober, vir 'n tyd ontwrig na 'n ongeluk tussen 'n polisievangwa en 'n Chevrolet-nutsvoertuig op die hoek van Voortrekkerweg en Parkweg-Suid.
Nooddienste was spoedig op die toneel om die beseerdes te behandel en na die naaste hospitaal te neem.
Omstanders, wat die ongeluk sien gebeur het, het op sosiale media uitgebrei dat die polisievoertuig na bewering gejaag het toe die ongeluk gebeur het. Dit wil voorkom of die passasiersvoertuig vanaf Parkweg in Voortrekkerweg ingedraai het toe die botsing plaasgevind het.
Onderweg om dwelmsmouse te onderskep
Luitenant-kolonel Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Oudtshoorn-polisie 'n dossier van roekelose en nalatige bestuur geopen het na 'n ongeluk tussen 'n polisievangwa en 'n Chevrolet-nutsvoertuig Dinsdagoggend om 10:55 op die hoek van Voortrekkerweg en Parkweg-Suid.
"Daar word beweer dat die polisievoertuig met vyf insittendes onderweg was na Calitzdorp om moontlike dwelmhandelaars te onderskep toe die voertuig met die Chevrolet-nutsvoertuig met twee insittendes gebots het. Al sewe persone is met matige beserings na die naaste mediese fasiliteit geneem. Twee polisielede is in die hospitaal opgeneem terwyl die ander drie ontslaan is."
Die toestand van die insittendes in die nutsvoertuig is nie bekend nie.
Pojie het verder bevestig dat na die afhandeling van die ondersoek die saak na die direkteur van publieke vervolging verwys sal word om beslissing te kry om voort te gaan met vervolging aldan nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’