OUDTSHOORN NUUS - Daar is steeds geen nuwe inligting oor Isak Thompson, ‘n lid verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weermag, wat sedert 19 Julie vermis is nie.
Hy het tydens opleiding by die Oudtshoorn Infanterieskool met ‘n R4-geweer vermis geraak het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gaan die soektog na die vermiste persoon voort en is daar nog geen nuwe inligting nie.
Volgens sy broer, Ricardo Thomson, is Isak ‘n reservis.
“Dit is kommerwekkend dat ons steeds geen inligting oor sy verdwyning gekry het nie. Ons het hom die Sondag by die basis afgelaai sodat hy opleiding daar kon doen. Toe hoor ons skielik hy is vermis.”
Volgens inligting wat Ricardo ontvang het, het Isak saam met ander lede Woensdagaand, 19 Julie, gaan slaap en het die ander lede die volgende oggend agtergekom dat hy, met sy geweer vermis is. ‘n Soektog by die basis wat lede van die weermag, ‘n helikopter en lede van die polisie se honde-eenheid insluit, is van stapel gestuur, maar was tot dusver nog onsuksesvol.
Verlede week het inligting daarop gedui dat Thompson moontlik met die geweer in Bongolethu rondloop met sy uniform aan.
"Dit is die eerste keer dat ons hoor dat hy so iets doen. Dit is buite sy aard. Hy is die broodwinner. Hy het ‘n vrou en kinders. Hy het nog nooit so iets gedoen nie. Dit is so onduidelik. Sy selfoon, beursie en ander persoonlike goed is nog in by die Infanterieskool.”
Volgens ‘n berig van News24 was Isak na bewering deel van ‘n uithoustaptog en het hy glo van ‘n liesbesering en blase op sy voete gekla. Volgens die berig wou die instrukteurs glo nie hê dat hy aan die opleiding moet onttrek nie, omdat die opleiding gestaak sou moes word indien te veel soldate onttrek.
‘n Navraag is aan die weermag, sowel as die polisie gestuur. Sodra terugvoering ontvang is sal dit by die aanlyn berig bygewerk word.
Enigiemand met inligting oor waar Isak hom bevind kan Ricardo by 084 544 6736 kontak.
Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weermag, het aan Oudtshoorn Courant gesê dat die ondersoek steeds aan die gang is.
Vorige artikel: Weermaglid met R4 vermis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’