Die vrou het glo aggressief geword toe sy besef dat winkelpersoneel die deur sluit om te keer dat sy die winkel verlaat terwyl polisie ontbied word. Een van die winkel se personeel het diep wonde aan sy hand opgedoen toe die vrou hom met `n skerp staal haarknippie aangeval het.
Dit blyk dat die vrou, wat van die Oos-Kaap afkomstig is, klere by die winkel wou koop met `n kaart wat nie aan haar behoort het nie. Die klerewinkel is deel van `n winkelgroep wat dit vir klante moontlik maak om klere by verskillende winkels met dieselfde kaart te koop.
Die vrou het glo vroeër die oggend aankope by `n winkel in die dorp gedoen waarna die werklike eienaar van die kaart per SMS van die transaksie in kennis gestel is. Die kaart se eienaar het die winkel gekontak en hulle meegedeel dat haar kaart gesteel is en dat hulle die transaksie moet kanselleer.
Die winkelbestuurder het daarna ook ander winkels in die dorp wat deel van die groep is geskakel om hulle in kennis te stel van `n moontlike swendelaar se doen en late.
Werknemers van `n bekende winkelgroep het dadelik onraad vermoed toe die vrou ook daar inkope wou doen.
Polisie, ander winkelbestuurders, sowel as die eienaar van die kaart waarop aankope gedoen is, is gekontak. Die vrou is glo deur ander winkelbestuurders geïdentifiseer.
Polisie het die sleutel vir `n sluitkassie by die vrou gevind. Al die klere wat wederregtelik aangekoop is, is in die sluitkassie by `n kettingwinkel gevind.
Verdere onraad is vermoed nadat die eienaar van die kaart nie enige klagtes by die polisie wou lê nie. Dit blyk dat die twee vroue, wat beide van Port Elizabeth afkomstig, saam in Oudtshoorn gewoon het. Beide was glo leerlinge van `n plaaslike bestuurskool. Dit is nie duidelik of hulle steeds op die dorp is nie.
Volgens een bestuurder van `n plaaslike klerewinkel met wie Oudtshoorn Courant hierdie week gesels het, is daar beslis `n toename in gevalle van winkeldiefstal die afgelope paar maande. "Ons moet almal deesdae meer waaksaam wees," het hy hierdie week gesê. "Mense kom met allerhande skelmstreke vorendag. Soms pas hulle klere in aantrekhokkies aan en probeer om met twee of drie lae uit te loop."
.jpg)
`n Vrou wat van winkeldiefstal verdink is, is Dinsdagogged deur polisie by `n klerewinkel in die middedorp in hegtenis geneem. Foto: Jo-Marie de Kock.
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'