OUDTSHOORN NUUS - "Ons wil graag hê die munisipaliteit moet aandag skenk aan ons probleme sonder dat ons tyres aan die brand hoef te steek."
So het 'n verteenwoordiger van die informele nedersetting Vlakkieweg geleë agter Dassieweg, vandeesweek in 'n emosionele pleidooi versoek.
"Dis eenvoudig. Ons soek net twee basiese dinge - water en sanitasiegeriewe. Dit alleen sal ons wêreld baie makliker maak. As ek rondom my kyk en ek sien hoe ander gebiede met hokke dieselfde voordele geniet, raak my hart seer. Ek sê weer, ons is ordentlike mense wat nie wil afbreek nie, maar herstel asseblief ons menswaardigheid, want ons beset nou al die grond vir meer as 'n jaar."
Die verteenwoordiger het bygevoeg dat dit veral kinders en senior burgers is wat chroniese behandeling ontvang, wat swaar trek sonder die behoeftes wat hulle verlang.
Die liefdadigheidsorganisasie, Sport Buddy Charity, het vandeesweek 'n helpende hand na die gemeenskap van Vlakkieweg uitgereik en kospakkies aan al die gesinne verskaf.
'n Navraag is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gerig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'