Update
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Lede van die polisie se openbare orde polisiëringseenheid was Maandag ingespan toe 'n groep jeugdiges 'n kruising in Weyersstraat in Neppon met brandende bande versper het.
Volgens Gereldo May, een van die jeugdiges, belowe die Oudtshoorn-munisipaliteit al 'n geruime tyd dat hulle werksgeleenthede sal kry.
"Die munisipaliteit het geld om straatname te verander, maar hulle wil nie jongmense in die dorp help om kos op die tafel te sit nie.
"Hier is baie projekte wat deur die munisipaliteit gedoen word, maar dit is in elke wyk altyd dieselfde mense wat 'n beurt kry.
"Hulle kies nooit nuwe mense nie," het hy gesê.
Die betoging het aanvanklik met slegs 'n paar inwoners van Rosebank en Neppon begin, maar het later uitgebrei.
Die groep het aanvanklik die pad naby Rosebank versper, maar later na die kruising verskuif.
'n Kontrakteur het vier van die jeugdiges as 'n afvaardiging na die munisipaliteit geneem vir samesprekings waarna die groep betogers vreedsaam uitmekaar is.
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die munisipaliteit gestuur om vas te stel watter projekte tans aan die gang is en hoe die aanstellingsproses verloop. Geen reaksie is teen druktyd ontvang nie.
Kyk 'n video hieronder:
ARTIKEL & VIDEO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'